Vlad Dracula

Vlad Dracula
Woiwode van Walachye
Vlad III van Walachye
Vlad III van Walachye
Periode October–November 1448; 15 April 1456 – Julie 1462; Desember 1476 of Januarie 1477
Voorganger Wladislaus II;
Basarab Laiotă cel Bătrân
Opvolger Wladislaus II;
Radu cel Frumos;
Basarab
Huis Drăculești;
Besarab
Vrou onbekende eerste vrou;
Justina Szilágyi
Kinders Mihnea cel Rău
Vader Vlad II Dracul
Moeder Eupraxia van Moldawië (?)
Godsdiens Roemeens-Ortodokse Kerk[1];
Rooms-Katolieke Kerk[2][3] (betwis)
Gebore 1428–1431
Oorlede Desember 1476 – Januarie 1477 (op 45–49)
Handtekening

Vlad III van Walachye, ook bekend as Vlad Dracula of Vlad die Deurboorder (Roemeens: Vlad Țepeș; 1428/'31-1476/'77), was tussen 1448 en sy dood drie keer woiwode (prins) van Walachye. Hy was die tweede oudste seun van Vlad II Dracul, wat in 1436 die heerser van Walachye geword het.

Vlad en sy jonger broer, Radu, is van 1442 in die Ottomaanse Ryk as gyselaars aangehou om hul pa se lojaliteit aan die sultan te verseker. Vlad se pa en sy oudste broer, Mircea, is vermoor nadat Johannes Hunyadi, regent-goewerneur van Hongarye, Walachye in 1447 binnegeval het. Hunyadi het Vlad se kleinneef, Wladislaus II, as die nuwe woiwode aangestel.

Hunyadi het die Ottomaanse Ryk in 1448 aangeval, en Wladislaus het hom vergesel. Vlad het Walachye in Oktober dié jaar met Ottomaanse hulp binnegeval, maar Wladislaus het teruggekeer en Vlad het in die Ottomaanse Ryk gaan skuil. Vlad is in 1449 of 1450 na Moldawië en later na Hongarye. Hy het Walachye in 1456 met Hongaarse hulp binnegeval. Wladislaus is dood terwyl hy teen hom geveg het.

Vlad het ’n slagting onder die Walachyse bojare begin om sy posisie te versterk. Hy het teenstand gekry van die Transsilvaniese Saksers wat sy teenstanders, Wladislaus se broers Dan en Basarab Laiotă, gesteun het asook Vlad se buite-egtelike halfbroer, Vlad die Monnik. Vlad het die Saksiese dorpies geplunder, die mense na Walachye geneem en daar aan pale laat hang nadat hy hulle deurboor het (vandaar sy bynaam). Die vrede is eers in 1460 herstel.

Die Ottomaanse sultan Mehmet II het Vlad gelas om aan hom persoonlik eer te betoon, maar Vlad het die sultan se twee afgevaardigdes laat vang en deurboor. In Februarie 1462 het hy die Ottomaanse Ryk aangeval en tienduisende Turke en Bulgare vermoor. Mehmet het ’n veldtog teen Walachye geloods om Vlad met sy jonger broer, Radu, te vervang. Hoewel dit nie geslaag het nie, het al hoe meer Walachyers na Radu se kant oorgeloop. Vlad is laat in 1462 na Transsilvanië om hulp te vra by die Hongaarse koning, Matthias Corvinus, maar Corvinus het hom gevange geneem en hom daarvan beskuldig dat hy en die sultan Hongarye in die geheim wou inval.

Vlad is van 1463 tot 1475 aangehou. In dié tyd het stories oor sy wreedheid na Duitsland en Italië versprei. Hy is op versoek van Stefanus III van Moldawië in die somer van 1475 vrygelaat. Hy het in Corvinus se leër teen die Ottomane geveg, en Hongaarse en Moldawiese soldate het hom gehelp om Basarab Laiotă (wat Vlad se broer Radu onttroon het) in November 1476 te laat vlug. In dieselfde jaar nog het Basarab teruggekeer met Ottomaanse hulp en Vlad is voor 10 Januarie 1477 vermoor. Boeke waarin vertel is van Vlad se wrede dade, was van die eerste topverkopers in Duitssprekende gebiede. Sy reputasie en patroniem (vadersnaam) het aanleiding gegee tot die naam van die vampier graaf Dracula in Bram Stoker se 1897-boek, Dracula.

  1. Cazacu 2017, pp. 81–83.
  2. Treptow 2000, p. 161.
  3. Balotă 1991, p. 207.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search